Die ouderlingsforum is die wetlike liggaam wat die hoogste gesag in die gemeente het. In die lig hiervan benader ons hierdie proses met biddende harte en groot omsigtigheid. Hierdie inligtingstuk dien die doel om aan u duidelikheid te gee oor die funksionering van die ouderlingsraad, asook die verlangde eienskappe van persone wat op hierdie raad kan dien.
1 Die amp van ouderling funksioneer in meer arenas as die ouderlingsforum.
Ouderlinge kan verskeie funksies in ’n gemeente vervul. Die Bybel praat van pastorale, lerende en regerende funksies. In ’n sekere sin vervul elke persoon wat ’n kleingroep lei, groepe mense in die gemeente herderlik bedien, lering gee of pastoraal versorg die bediening wat in die Nuwe Testament as die werk van ouderlinge beskryf word. In die algemeen het elke persoon wat pastoraal of lerend bedien 'n groot verantwoordelikheid. Van elke persoon wat só deur die Here gebruik word in die ouderlingsbediening word verwag om te waak en bid oor die gemeente, die las te dra van die geestelike welstand van die gemeente en te strewe na die bewaring van eenheid in die gemeente. Hierdie lerende en pastorale bedieninge vind op verskeie plekke in die gemeente plaas en ons gebed is dat daar baie mense na vore sal tree wat hierdie bedieninge sal uitleef. Wanneer ons egter dink aan die verkiesing van 'n oorkoepelende ouderlingsforum, is die algemene pastorale en lerende bediening in die gemeente nie ter sprake nie. Ons dink hier verder aan 'n spesifieke leierskapsfunksie.
2 Die ouderlingsforum vervul 'n leierskapsfunksie wat nie in die algemeen die verantwoordelikheid van alle ouderlinge is nie.
Daar word in die Skrif verwys na hierdie verdere funksie in die gemeente, naamlik die funksie van oorkoepelende leierskap. Dit wil nie voorkom asof almal wat pastoraal of lerend bedien noodwendig ook hierdie funksie moet of kan verrig nie. Met die nominasie van persone wat op die ouderlingsraad sal dien, het ons spesifiek hierdie funksie as fokus. 1 Timoteus 5:17 praat van regerende ouderlinge:
-
Laat die ouderlinge wat goed regeer, dubbel eerwaardig geag word, veral die wat arbei in woord en leer. (OV)
-
With a gift of leadership ... (JB Phillips)
-
Officers of the church ... (TCWT)
-
The elders who direct the affairs of the church ...(NIV)
Ons ouderlingverkiesing is daarom gefokus om 'n paar ouderlinge te identifiseer wat saam met die leierleraar spesifiek verantwoordelikheid sal neem vir die volgende oorkoepelende leierskapsfunksies:
-
Pastorale sensitiwiteit
-
Dogmatiese integriteit
-
Visionêre ingesteldheid
Pastorale sensiwiteit
Hiermee word bedoel dat dit die ouderlingsraad se verantwoordelikheid is om toe te sien dat beroepe uitgebring word vir die behoorlike versorging en bediening van die gemeente. Die ouderlingsforum neem ook die verantwoordelikheid op om as finale gesag op te tree in verhoudingsgeskille na die Matteus 18-pad gevolg is. Die toepassing van tug en die bemiddeling van herstel is verder ook deel van die ouderlingsraad se verantwoordelkheid.
Dogmatiese integriteit
Hiermee word bedoel dat die ouderlingsforum moet waak oor die suiwerheid van leer in die gemeente. Die bedoeling is nie dat pesone op hierdie raad amptelike teologiese opleiding moet hê nie, maar dat hulle gesonde kennis van die Skrif sal hê. Die ouderlingsforum besin in samewerking met die preekspan veral oor gebalanseerde, relevante lering en neem ook 'n ‘waghond’-rol in om te verhoed dat fanatiese of dwalende elemente die gemeente skade kan doen.
Visioenêre ingesteldheid
Hiermee word bedoel dat die ouderlingsforum verantwoordelikheid neem vir die drome en mikpunte van die gemeente. Die ouderlinge sal ook verantwoordelik wees om toe te sien dat die begroting die visie ondersteun. Dit behels ook die waaksaamheid dat strukture en prosesse in plek is om dit waarheen die gemeente mik, in goeie orde en met gesonde bestuur gefasiliteer kan word. Die ouderlingsforum is ook die statutêre liggaam wat finale wetlike verantwoordelikheid vir die gemeente aanvaar.
3 Eienskappe van lede van die Ouderlingsforum
Voor die hand liggende eienskappe van enige ouderling is natuurlik karakter en toewyding soos deur die Bybel voorgeskryf (vergelyk Titus 1:5-9; 1 Timoteus 3:1-7; 1 Petrus 5:1-3). Vir die doel van ons ouderlingsforum is eienskappe en ondervinding wat ’n persoon geskik maak om bogenoemde take as deel van ’n eensgesinde span te kan uitvoer baie belangrik. Ons dink byvoorbeeld dat eienskappe soos leierskap, besigheid- en bestuursondervinding, mensekennis, die vermoë om in ’n span te funksioneer, leerbaarheid en volwassenheid baie kan help in die vervulling van hierdie taak. Verder moet hierdie ouderlinge uitverkoop wees aan die DNS (visie, missie, waardes en filosofie) van die gemeente.
4 Nominasieproses
Dit word verwag dat u die persone wat u nomineer redelik goed ken. 'n Nominasie sal ook slegs geldig wees indien u bevestig het met die persoon wat deur u genomineer word dat hy of sy wel beskikbaar is om op die ouderlingsforum te dien. Slegs gemeentelede kan nominasies maak en dit is ook 'n belangrike vereiste dat u sal motiveer waarom u 'n persoon nomineer. 'n Sekondant, wat ook 'n lidmaat van die gemeente is, word vir elke nominasie benodig. 'n Maksimum van twee ouderlingskandidate kan deur elke gemeentelid genomineer word. Elke nominasie moet op 'n afsonderlike vorm gedoen word.
Ná 'n keuringsproses en 'n geleentheid vir beswaar teen voorgestelde lede van die ouderlingsforum, sal die nuwe ouderlingsforum aan die gemeente voorgestel word.