Ons storie

Ons storie

Die storie sover

In die boek Handelinge, lees ons van ’n gemeente met die naam, Antiochië. Dis ’n gemeente wat in prominensie gegroei het, ná die Jerusalem-kerk. Dis die gemeente waarvandaan Paulus en Barnabas op hulle sendingreise vertrek het, en talle kerkwees-beginsels kan geleer word uit die paar hoofstukke rondom hierdie gemeente.

Die gemeente van Antiochië het nog altyd ons verbeelding aangegryp, en die gemeente wat uiteindelik as Mosaïek sou bekendstaan beïnvloed en geïnspireer.

Die vroeë geskiedenis

Die wortels van Mosaïek strek amper 60 jaar terug na ’n gemeenteplanting uit die AGS (Apostoliese Geloofsending van Suid-Afrika) in die middel-1950’s in die Noorde van Johannesburg. Later het daar drie AGS-gemeentes saamgesmelt in en om die Randburg-omgewing en het AGS Linden, en later AGS Randburg ontstaan. Sleutelleiers in die aanvang-seisoen van die gemeente was onder meer Pastoor Jannie le Roux, Pastoor Frank du Plessis, Pastoor James Scott, Pastoor Hennie Grobler en Pastoor Stefan Smit. Hulle het elkeen vyf vestigingswortels van wat die gemeente sou word, neergelê.

Johan en Wilma Geyser

’n Sleutel-gebeurlikheid in die geskiedenis van die gemeente was toe ’n jong pastoor en sy vrou met hulle pasgebore seuntjie uit Bloemfontein genooi is om te kom preek by die gemeente, en na afloop van die diens —en beraadslaging van die kerkraad —amptelik beroep is om as hoofleraar na die gemeente te kom.

Johan en Wilma Geyser onthou die terugrit Bloemfontein toe. ‘Ek het gesê dat ek nooit in my lewe dit sal oorweeg nie, maar Wilma het gesê moenie so gou praat nie.’ Wilma voeg by, ‘Ons het altyd gedroom van ’n plek waarvoor ons ons lewens sou kon gee. Waar ons lewens sou wortelskiet en ons saam met ’n community die lewe kon doen — ons hele lewe.’

In 1987 bevind die jong gesin hulleself toe in Randburg Gemeente, in ’n klein kerkie op die hoek van Eerstelaan en Derdestraat. Die gemeente het bestaan uit omtrent ’n 100 mense, en die progressiewe jong pastoortjie se idees was by verre nie altyd welkom nie.

‘Ek onthou een oggend toe kom een van die kerkraadslede voor die diens in die konsistorie in op ’n drafstappie met die nuus dat daar ’n besoeker in die diens was, en nie enige besoeker nie, die bestuurder van ’n plaaslike banktak. Daar was skielik ’n belang in hoe die diens lyk, en of dit toeganglik sou wees vir die besoeker.’

Stories soos hierdie het ’n groot rol gehad op die vorming van die waardesisteem van wie Mosaïek sou word, en saam met blootstelling aan Willow Creek Community Church, in Chicago VSA, is daar geleidelik al hoe meer moeite gedoen om egtheid, toeganglikheid en relevansie in dienste en bedieningsfilosofie in te bou. Hierdie filosofie sou later begin bekendstaan as soekersensitiwiteit.

Meer Info

Artikels

X
Loading