In die bestaan van die gemeente is ’n addisionele parallel met die gemeente van Antiochië geleer, ’n pynlike les wat baie wysheid in die gemeente-storie ingeweef het: Antiochië was ’n gemeente wat mense gestuur het na ander plekke om die boodskap en koninkryk uit te bou, maar dit het beteken dat mense waarvoor hulle baie lief was op ’n manier uit die gemeenskap uit moes gaan.
Daar is talle voorbeelde van sulke sleutelleiers (persone wat aangestel was en in ’n leierskapsrol gedien het) wat in die laaste twee dekades net vir ’n seisoen deel van die storie van hierdie gemeenskap was, maar die boustene wat hulle agtergelaat het, is uiters waardevol:
Deidré Nel (Janse van Rensburg) het ’n integrale rol gespeel in die daarstel van ’n relevante kinderbediening, Shiloh Kids; sy is tans deel van die bedieningspan van Willow Creek Community Church in Chicago.
Theo Geyser het ’n sleutelrol gespeel in die vestiging van die jong en toeganglike Nuwe Generasie-kultuur by Mosaïek, asook prediking. Hy het in 1999 na Stellenbosch verhuis en daar Stellenbosch Gemeente gevestig en uitgebou. Tans is hy besig met ’n inisiatief, InVia, met gemeentes in Kaapstad en Somerset-Wes.
Philip Liebenberg het vanaf Welkom Gemeente vir ’n seisoen by Randburg se preekspan aangesluit, met die droom om ’n gemeente in Mellville te plant. Uiteindelik het die vereistes van die Melville-gemeente sy volle aandag en energie vereis.
Anton Olivier het as leier tydens die eerste paar jaar van die diensjaarspan,Shiloh Go-School gedien, en sy gemaklike preekstyl aangewend om regoor die land saam met die span op te tree. Hy is later na gemeentes in Vereeniging, Paarl en Mellville beroep, voor hy in 2000 oorlede is.
Willem de Wet het as hoërskoolseun reeds sy leiersvermoë binne die tienergroep begin uitleef, voor hy later die leier van die jong werkendes,Shiloh, geword het. Hy funksioneer tans as ontwikkelaar.
Heidi Bouwer en Corné Dannhauser het hulle kreatiewe passies binne die kunste-arena uitgeleef, veral binne die Belewenisontwerp-, Musiek- en Drama-spanne. Beide is tans nog te sien in die vermaaklikheidswêreld.
Tom en Lorandi Smith. As oud-student van Shiloh Go-School het Tom eers veral by die Tiener-bediening ’n integrale rol gespeel en later as prediker en mede-leier. Na ’n seisoen by ’n gemeente in Colorado Springs, VSA, het hulle ’n gemeente, Kleipot, in Randburg kom vestig.
Anton en Bernice Venter het as leiers van Shiloh Go-School gedien, voor hulle na een van die Doxa Deo-gemeentes in Pretoria beroep is.
Herman Steenkamp het as student in Shiloh Go-School ontwikkel tot sendeling, voor hy teruggekeer het en leiding van die diensjaarspan geneem het, tot die organisasie sy deure in 2000 gesluit het.
John Higgins het ’n rol gespeel binne die beradings- en versorgingsarena voor hy ’n onafhanklike praktyk gevestig het.