In die boek Handelinge, lees ons van ’n gemeente met die naam, Antiochië. Dis ’n gemeente wat in prominensie gegroei het, ná die Jerusalem-kerk. Dis die gemeente waarvandaan Paulus en Barnabas op hulle sendingreise vertrek het, en talle kerkwees-beginsels kan geleer word uit die paar hoofstukke rondom hierdie gemeente.
Die gemeente van Antiochië het nog altyd ons verbeelding aangegryp, en die gemeente wat uiteindelik as Mosaïek sou bekendstaan beïnvloed en geïnspireer.
Die wortels van Mosaïek strek amper 60 jaar terug na ’n gemeenteplanting uit die AGS (Apostoliese Geloofsending van Suid-Afrika) in die middel-1950’s in die Noorde van Johannesburg. Later het daar drie AGS-gemeentes saamgesmelt in en om die Randburg-omgewing en het AGS Linden, en later AGS Randburg ontstaan. Sleutelleiers in die aanvang-seisoen van die gemeente was onder meer Pastoor Jannie le Roux, Pastoor Frank du Plessis, Pastoor James Scott, Pastoor Hennie Grobler en Pastoor Stefan Smit. Hulle het elkeen vyf vestigingswortels van wat die gemeente sou word, neergelê.
’n Sleutel-gebeurlikheid in die geskiedenis van die gemeente was toe ’n jong pastoor en sy vrou met hulle pasgebore seuntjie uit Bloemfontein genooi is om te kom preek by die gemeente, en na afloop van die diens —en beraadslaging van die kerkraad —amptelik beroep is om as hoofleraar na die gemeente te kom.
Johan en Wilma Geyser onthou die terugrit Bloemfontein toe. ‘Ek het gesê dat ek nooit in my lewe dit sal oorweeg nie, maar Wilma het gesê moenie so gou praat nie.’ Wilma voeg by, ‘Ons het altyd gedroom van ’n plek waarvoor ons ons lewens sou kon gee. Waar ons lewens sou wortelskiet en ons saam met ’n community die lewe kon doen — ons hele lewe.’
In 1987 bevind die jong gesin hulleself toe in Randburg Gemeente, in ’n klein kerkie op die hoek van Eerstelaan en Derdestraat. Die gemeente het bestaan uit omtrent ’n 100 mense, en die progressiewe jong pastoortjie se idees was by verre nie altyd welkom nie.
‘Ek onthou een oggend toe kom een van die kerkraadslede voor die diens in die konsistorie in op ’n drafstappie met die nuus dat daar ’n besoeker in die diens was, en nie enige besoeker nie, die bestuurder van ’n plaaslike banktak. Daar was skielik ’n belang in hoe die diens lyk, en of dit toeganglik sou wees vir die besoeker.’
Stories soos hierdie het ’n groot rol gehad op die vorming van die waardesisteem van wie Mosaïek sou word, en saam met blootstelling aan Willow Creek Community Church, in Chicago VSA, is daar geleidelik al hoe meer moeite gedoen om egtheid, toeganglikheid en relevansie in dienste en bedieningsfilosofie in te bou. Hierdie filosofie sou later begin bekendstaan as soekersensitiwiteit.
God is liefde en dit beteken dat dit eie aan Hom is om in verhouding te staan. In die Vader-Seun- Heilige Gees verhouding is daar ‘n wonderlike band van liefde. Dis ‘n verhouding van aanvaarding en ’n ingesteldheid op die mekaar.
Dit is die lewe – verhouding in liefde.
Ons is net so gelukkig as wat ons in ons verhoudings is. Maar in verhoudings kry ons ook seer. Tog is dit juis in verhoudings waar ons genesing vir hierdie pyn lê. Ons herstel, ontwikkel en groei weer deur verhoudings. Dis hoe God ons gemaak het.
Ons is geskape om in ’n ek-U, ek-jy en ek-dit/ek- wêreld verhouding te leef en te beweeg. Ons sien dit in Jesus se lewe. In die nag gaan Hy eenkant toe om te bid – die beweging na God toe (ek-U). Die volgende oggend kies Hy Sy twaalf dissipels en begin die lewe diep met hulle deel – die beweging na mekaar toe (ek-jy). Daarna gaan hulle saam uit om te bedien – die beweging na buite toe (ek-dit/ek-wêreld).
As ons terugkyk oor 2013 is ons dankbaar en opgewonde oor wat 2014 en die toekoms virons inhou. Met ons 2013 jaarverslag nooi ek jou uit om saam die groei te vier wat in ons geloofgemeenskap, geografiese gemeenskap en ook wyer plaasgevind het. Ons weet ook dat groei nie die totale afwesigheid van gebrokenheid verseker nie.
Daar sal geen verslag kon wees as dit nie was vir die honderde medewerkers in die verskeie afdelings hier by Mosaïek nie! Ons, die bedieningspanne is bevoorreg om saam met julle die werk te kan doen waarvoor God ons almal geroep het.